Suid-Afrikaners het nie ‘n kultuur van spaar nie. In ‘n onlangse studie is aangedui dat ‘n klein persentasie van Suid-Afrikaners finansieel verseker sal aftree. Gevolglik sal ‘n groter persentasie van ons staatmaak op die steun van die staat en / of van familielede. ‘n Geskikte uittree-annuïteit (UA) kan laasgenoemde voorkom.
Mense leef baie langer as in die verlede en die behoefte om jouself vir ‘n langer tydperk in ons aftreejare te onderhou, is ‘n werklikheid. Die belangrikheid om op ‘n jong ouderdom te begin spaar vir aftrede, kan nie oorbeklemtoon word nie. Begin vroeg, hêt ‘n plan, stel ‘n begroting op en hou daarby.
Begin vroeg
Saamgestelde rente verdien rente op die opgehoopte kapitaal, wat jou toelaat om rente op rente te verdien. Deur ‘n gereelde som geld te belê, byvoorbeeld maandeliks oor ‘n langer termyn, word die voordele verbonde aan saamgestelde rent ingewin en sodoende word die beleggingsopbrengs verhoog, wat op sy beurt sal help om jou aftreedoelwit te bereik.
Beplan vroeg
Stel ‘n aftreeplan op met die hulp en leiding van ‘n finansiële beplanner. Besluit op watter ouderdom jy verkies om af te tree en watter inkomste jy benodig by aftrede om ‘n gemaklike lewensstyl te geniet.
Stel ‘n begroting op en sluit jou aftreespaargeld in as deel van jou begroting. As jy op 25-jarige ouderdom begin spaar, en veronderstel die aftree-ouderdom is 60, sal jy ‘n groter kans hê om jou aftreedoelwit te bereik, as om op die ouderdom van 35, 40 of selfs 45 te begin spaar.
Hou by jou plan
Nadat jy ‘n geskikte plan opgestel het, is dit noodsaaklik dat jy daarby hou. Soms moet jy miskien effense wysigings aanbring om voorsiening te maak vir persoonlike en ekonomiese faktore, maar dit is belangrik om nie op te hou spaar nie. Moenie afgelei word deur afwaartse markneigings of die aantrekkingskrag van skemas wat onrealistiese hoë opbrengste belowe nie.
Tydens ‘n beleggingsmark wat swak presteer, is dit ‘n algemene gewoonte vir beleggers om hul belegging te stop omdat hulle bang is om goedverdiende geld te verloor. Dit is egter belangrik om jou uittree-annuïteit saam met jou aftreeplan jaarliks te hersien. Met hierdie hersiening kan jy die prestasie van die belegging in die uittree-annuïteit meet en herevalueer en indien nodig jou aftreeplan.
Afwaartse draaie in die mark kan selfs in jou guns werk. As die mark in ‘n afwaartse neiging is, neem die eenheidsprys van aandele af, en die gevolg hiervan is jy kan meer eenhede teen ‘n goedkoper prys koop as jy ‘n gereelde maandelikse belegging in plek het. Die positiewe effek is dat jy meer eenhede ophoop en sodoende jou beleggingsopbrengs verhoog wanneer die belggingsmark herstel en weer positief begin presteer.